Hulp vir dwelmverslaafdes en hul families

André en Amanda du Toit, projekleiers van SOS Krugersdorp-Sentraal. Foto: Bianca Pindral

Sedert die bekendstelling van die Krugersdorp-Sentraal-tak van SOS Wes-Rand op 5 Junie vanjaar het die groep Christen-fasiliteerders met meer as 13 families gewerk. Daar is nog soveel navrae na hul dienste dat die groep kan sê dat hul werk geslaag is.

Die tak is ‘n uitbreiding van die bekende dwelmbestrydingsprojek, Wes-Rand SubstansOnderSteuning (SOS).

“Ons het nooit besef hoe groot die behoefte in ons onmiddellike omgewing en in die dorpe rondom ons is nie,” het die projekleier van die tak, André du Toit gesê.

Hulle kry navrae van so ver as Westonaria, Radiokop, Magaliesburg en selfs die Oos-Rand om by skole praatjies te lewer oor dwelms en wat dit aan mense en hulle families doen.

Volgens die groep kan hulle reeds die verskil in die lewens van die 13 gesinne sien. Hulle het vertel dat hul taak nie altyd maklik is nie en vele uitdagings het.

Lees ook: Uiteindelik hoop vir familie van dwelmverslaafdes

“Ons program behels om nie net op die afhanklikheid te konsentreer nie, maar om die oorsaak daarvan te bepaal en God die geleentheid te gee om die genesing te doen. Die afhanklikheid is net ‘n vrug van ‘n diepgewortelde seer wat met die gebruik van die een of ander middels soos dwelms, alkohol, pille of selfs kos verlig probeer word,” het André gesê.

Een van die programme wat met die afhanklikes en families deurgewerk word, is gebaseer op die Bergrede volgens Lukas 6:20–26.

“Dit help ons almal om dieper in onsself in te kyk en te bepaal waar ons wonde en tekortkominge lê, en hoe ons God kan toelaat om die genesing in ons lewens te bewerkstellig en Hom die eerste plek in ons lewens te gee. Ons loop ook ‘n pad saam met die geliefdes van afhanklikes wat ‘n rehabilitasieprogram volg sodat hulle kan aanhou om hulle te ondersteun om saam met die hulle die pad na genesing te loop,” het hy vertel.

Die groep werk op Maandae- (groepsessies), Dinsdae-, Woensdae- en Donderdae-aande (een-tot-een-sessies) met die families en afhanklikes.

“Mense gebruik nie ‘n substans omdat hulle dit geniet nie, maar om ‘n emosionele seer te verberg of ‘n te leemte vul,” het André gesê.

Die tak doen ook ‘n beroep op die publiek en besighede om hulle te help om ander te help, as dit op hul harte gelê word. “Daar is mense wat graag hierdie hulp wil kry maar omdat ons nie winsgewend is nie, is dit moeilik om vir hulle wat dit nie kan bybring nie, die toetse en kursusmateriaal gratis te voorsien. Daar is ook mense in ander dorpe in die omgewing wat nie geld het vir vervoer om by ons uit te kom nie.”

Tree met die SOS-groep in verbinding deur Andre by 081 727 8554 of Amanda by 081 569 9833 te skakel.

Stuur ook ‘n epos aan sossentraal@gmail.com of besoek AGS Krugerdorp-Sentraal op die hoek van Human- en Jeppestraat, Krugersdorp.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Bianca Pindral
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top