Babbelbekkie-hartjies borrel met liefde

Leia Randall is 'n trotse Ebies-ondersteuner. Foto: Alanicka Lotriet.

Op Woensdag, 8 November was Laerskool Ebenhaeser se verteenwoordiger en departementshoof, Caty Theunissen verheug toe R5 000 aan die skool oorhandig is.

Van een kinderhartjie na ‘n ander – so is die suiwerste vorm van liefde en omgee uitgeruil toe ‘n plaaslike behoeftige laerskool ‘n ruim skenking van Babbelbekkie Akademie in Helderkruin ontvang het.

Caty Theunissen ontvang die geld van Dietrich Schulze en Erika Cloete. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Babbelbekkie Akademie se hoof, Erika Cloete was Ebies een van die skole wat onder die Oktober-storm deurgeloop het. Alhoewel die skade nie so erg soos dié aan ander laerskole is nie, het hulle dit goedgedink om te help waar hul kan.

“Die reën self het die skooltjie erg getref en tog het hulle nie soveel aandag soos ‘n paar ander laerskole gekry nie. Ons weet ook dat meeste van hul geld aan hul leerders bestee word – onder andere om na hulle om te sien en kos te voorsien. Daarom het hulle nie regtig die geld vir die nodige herstelwerk nie,” het Erika en haar assistent, Elzane Coetzee vertel.

Die Babbelbekkie Akademie-familie is bly om te help waar hul kan. Foto: Alanicka Lotriet.

Erika het gesê dat die skenking danksy die puik ondersteuning van 39 kleuters en naskoolleerders gedoen kon word. Een van die ma’s van ‘n maatskappy bekend as Dirty Peach het selfs die wins geskenk wat uit die verkope van ‘n enorme aantal koekies gemaak is.

Babbelbekkie Akademie wil graag voortaan gereeld by Ebies betrokke wees deur te skenk waar daar nood of ‘n tekort is.

Caty Theunissen ontvang die geld van ‘n trotse Dietrich Schulze. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons is baie daarop ingestel om mense te help, en dié leerders het nie gevra om in armoede te leef nie. Vir een van ons volgende projekte beoog ons om sporttoerusting bymekaar te kry en vir behoeftige leerders te skenk,” het Erika vertel.

Sy glo verder dat dit vir elke Babbelbekkie ‘n goeie geleentheid is om te leer hoe om te gee vir dié wat dalk minder as hulle het.

Caty Theunissen ontvang die geld van Dietrich Schulze en Erika Cloete. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons wil teruggee aan die gemeenskap, en ons is so bevoorreg om dit te kan doen. Die kinders se hartjies is werklik oop om te gee,” het sy gesê.

Laerskool Ebenhaeser is dankbaar vir die skenking en bedank graag almal wat gehelp het met die projek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top