Wessies – die vullishoop van Mogale City?

'n Vullissorteerder by die afval wat die omgewing ontsier. Foto: Amanda de Lange.

Krugersdorp-Wes is besig om te ontaard in die vullishoop van Mogale City, gedeeltelik as gevolg van asblikgrawers wat hul vullis en skrootmateriaal sorteer op plekke wat nie daarvoor afgebaken is nie. Dit is die mening van Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid.

“”Wat eens ‘n woonbuurt met ‘n unieke karakter was, het die laaste paar jaar stadig maar seker in ‘n vrot vullishoop verval, ondanks klagtes van inwoners en raadslede.”

Dit is die woorde van Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid wat onlangs haar kommer oor die skrikwekkende toestand van Krugersdorp-Wes uitgespreek het.

Amanda de Lange by een van die bemorste plekke waaroor sy baie ontevrede is. Foto: Alanicka Lotriet.

“Munisipale regulasies wat spesifieke soorte bedrywighede in die omgewing van skole, kerke en eetplekke verbied, word deur die munisipaliteit self ondermyn,” het sy vertel.

Sy het verder gesê dat toestemming selfs gegee is dat daar reg langs ‘n gelisensieerde eet- en kuierplek vullis en skrootmetaal gesorteer mag word. “Die nywerheidsgebiede in Krugersdorp is besig om spookdorpe te word omdat daar desondanks duidelike voorskrifte en regulasies, toegelaat word dat ondernemings wat voorheen tot Chamdor, Boltonia en Delporton beperk was, nou op elke tweede hoek langs winkels, eetplekke, apteke en publieke vermaak hul verskyning maak,” het Amanda bygevoeg.

Een van die asblikgrawers besig om sy vullis en skrootmateriaal te sorteer. Foto: Alanicka Lotriet.

Sy het veral twee skrootwerwe genoem wat baie naby aan mekaar in Krugersdorp-Wes is. Volgens Amanda is albei naby eetplekke, ‘n apteek en ‘n besigheid wat voedsel verwerk.”By skrootwerwe, waarvan die een jare lank reeds daar bedryf word, het die toenemende aantal mense, veral asblikgrawers wat al hoe meer skroot kom verkoop, ‘n probleem vir voetgangers en voertuigbestuurders in die besige straat geword,” het sy vertel.

Amanda ontvang ook gereeld klagtes oor rotplae en besoedelde water wat in die straat uitloop.”In die algemeen lyk groot dele van Krugersdorp onversorg en vervalle. Dinge gaan stelselmatig agteruit en belastingbetalers sien nie dat die nodige onderhoud gedoen word in hul dorp nie,” het sy gesê.

Amanda de Lange by een van die bemorste plekke waaroor sy baie ontevrede is. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens die VF Plus het die portefeuljekomitees wat na die kwessies moet omsien, dieselfde verskoning – daar is nie geld nie. Amanda meen dat die realiteit is dat Mogale City, wat finansieel kniediep in die moeilikheid is, nie fondse het om die mees basiese toerusting aan te koop of broodnodige tegniese personeel aan te stel nie. “Daar is heelwat beloftes, maar ongelukkig geen lig aan die einde van die tonnel of volhoubare plan op die tafel nie,” het sy ten slotte vertel.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at [email protected] or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top