‘Ek het gedog hulle gaan my vermoor’ – bejaarde na aanval.

Leêr foto: Alanicka Lotriet.

Die News het onlangs met ‘n vrou van 75 gesels nadat sy deur twee indringers in haar eie erf aangeval en beroof is.

Dié voorval het Donderdag, 28 September om 10.50vm in die Mindalore-omgewing plaasgevind. Die bejaarde, wat graag anoniem wil bly om viktimisering te voorkom, woon al vir die afgelope 46 jaar in haar Krugersdorp-tuiste en het nog nooit so iets beleef nie.

Leêr foto: Alanicka Lotriet.

Sy het ‘n klein voëlboerdery in haar agterplaas en gaan kyk vanselfsprekend elke dag hoe dit daar gaan.

“Dit is ‘n daaglikse roetine, maar dié keer was dit anders. Ek was agter by die hokke, en toe ek omdraai agterdeur toe, toe wag hulle vir my – twee van hulle. Ek was alleen tuis,” het sy vertel.

Geskok het sy die twee mans gevra hoe hulle ingekom het, waarop hulle geantwoord het dat die elektriese palissadehek voor oop was. Sy het egter geweet het dat die hek toe was, en het besef dat hulle die hek van die reling afgelig het. Sy het vertel dat sy altyd versigtig is en die deure en hekke agter haar sluit.

Lees ook: Driejarige sien gru-aanval op familie

“Hulle het my gegryp en my op die grond neergegooi. My bril het van my gesig afgevlieg soos ek gespartel het toe hulle my van agter af teen die grond gedruk het. Dit het gevoel soos ‘n knie wat in my rug insink terwyl hulle my vasgedruk het, en ek het begin sukkel om asem te haal,” het sy vertel.

Met die gestoei het haar agterdeursleutel uit haar broeksak geval. So het die aanvaller toegang tot die huis gekry.

“Toe ek weer besef wat om my aangaan, het hulle my reeds op die een of ander manier in die huis ingevat. Hulle het my asmapompie uit my hand geslaan en ek het nog meer gesukkel om asem te haal,” het sy gesê. “Een van die twee het gevra vir geld, en ek het gesê dat ek nog nie bank toe was nie.”

Lees ook: Aangerand na ligte botsing

Daarna het hulle haar kamer toe gevat en met ‘n wolkombers toegemaak. Die twee mans het al haar laaie omgekeer en die inhoud, insluitend 50 jaar se juwelierswareversameling in ‘n kussingsloop gestop.

“Ek vermoed hulle het my papegaai hoor praat en gedink daar’s iemand anders in die huis, want hulle het gevlug. Hulle is hier weg met my juwele, selfoon en twee Sodastream-bottels,” het sy bygevoeg.

Eers nadat die mans weg is het sy die paniekknoppie gedruk en haar asmapompie gebruik. Al kon sy nie goed sien sonder haar bril nie, het dit vir haar gelyk soos ‘n wit kar – moontlik ‘n Jetta of Polo – waarin die rowers weggejaag het.

Die plaaslike polisie en GPF-lede het daarna opgedaag en ‘n verklaring geneem.

“Alles het so vinnig gebeur; ek het gedog hulle gaan my versmoor. Ek staan nie ‘n kat se kans teen een nie, wat nog van twee?” het sy vertel.

Sy het intussen die dokter besoek en buiten talle blou kneusplekke op haar rug, arms en vingers het sy gelukkig ernstige beserings vrygespring.

“Niks sal rowers keer nie, maak nie saak hoe veilig jy dink jy is nie,” het sy ten slotte vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet
Journalist

Latest News

Top