België, Noorweë en binnekort die wêreld

Chané Jonker.

‘n Plaaslike fietsryer het hoë hoogtes bereik toe sy aan die begin van die jaar Suid-Afrika in België verteenwoordig het.

Chané Jonker, ‘n inwoner van Krugersdorp het direk na die Suid-Afrikaanse Fietsrykampioenskappe in Februarie Europa toe gevlieg om aan die Spring Classics-fietsrykampioenskappe deel te neem. Daar het sy met ‘n aantal van die beste fietsryers in die wêreld meegeding.

Sy het ook aan die Belgiese kermesse-wedrenne deelneem en het so goed gevaar dat sy ‘n podiumplek behaal het.

Sy het tydens ander wedrenne onder die top 10 en top 20 geëindig.

Chané Jonker.

Chané beskou dit as die beste ervaring wat sy nog ooit gehad het – nie omdat sy so goed gevaar het nie, maar omdat sy van haar beste maats daar ontmoet het.

“In Europa word mens op verskillende maniere uitgedaag,” het Chané vertel. “Die hoë, tegniese roetes met baie draaie, smal paadjies en ‘n groot aantal ryers het my op elke moontlike manier getoets. Daar was ook baie reëndae wat die roetes nog moeiliker gemaak het.”

Sy het ook drie ongelukke gehad waartydens sy baie hard geval het. “‘n Mens word verstandelik en fisies heelwat uitgedaag,” het sy gesê.

Ten spyte daarvan dat sy ‘n paar keer hard met die aarde kennisgemaak het, het sy die fietsry in Europa vreeslik geniet.

“Ek het great spanmaats van reg oor die wêreld gehad. Ons het in ‘n solderkamer gebly waar vier of vyf geslaap het, so daar was amper geen privaatheid nie. Ons moes met die minimum klaarkom. Dit was crazy, maar baie lekkerder as wat dit klink.

“Ons het saam goeie en slegte tye beleef en mekaar ondersteun.”

Chané is na haar Europa-toer na die Wêreldfietsrykampioenskappe in Bergen, Noorweë genooi en sal op Saterday, 23 September daaraan deelneem.

Sy en haar spanmaat, Ashleigh Moolman Pasio sal die Elite Women-groep verteenwoordig.

Daarna kom sy terug Suid-Afrika toe en beoog om ‘n paar plaaslike wedrenne soos die Amashova Cycle Challenge en 947 Cycle Challenge aan te durf om haar seisoen af te sluit.

“Ek hoop om volgende jaar weer Europa toe te gaan wanneer die fietsryseisoen afskop. Saam met my span vir 2018 gaan ons fokus op die Classics en Statebond Spele,” het sy vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Bianca Pindral
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top