Na 10 jaar is die huise uiteindelik hulle s’n

Marie Krieg, 'n inwoner van Appelpark ontvang haar titelakte van Trudie Naudé, raadslid van die area. Saam met hulle is Estelle Opperman. Foto: Ingestuur

Na 10 jaar se gewag het 11 inwoners van Appelpark uiteindelik hul huise se titelaktes gekry.

Die News het die afgelope aantal jare talle artikels gepubliseer oor die Appelpark-inwoners se kommer omdat hulle nie die titelakte ontvang wat hulle toekom nie.

In Februarie was daar ‘n artikel oor ‘n gesin wat ses jaar lank in konstante vrees lewe dat hul huis by hulle weggeneem gaan word aangesien hulle nie die titelaktes het nie. Henry de Beer wat in Appelpark woon het gesê sy grootste vrees is dat wanneer hy doodgaan, sy kinders op straat sal sit.

Lees meer hier: Living in fear of homelessness – for six years

In 2006 het Trudie en Jakkie Naudé, die raadslede van die wyk, ‘n proses begin om die vereiste dokumente in orde te kry sodat die 42 huise in Appelpark aan lede van die gemeenskap oorhandig kan word.

Trudie het gesorg dat al die aansoekvorms volledig ingevul word en die huise was so te sê gereed vir oordrag.

David Makhura, die Gautengse Premier staan by Trudie Naudé, die wyksraadslid van die area.
Foto: Ingestuur

Trudie se pogings is egter vertraag en in ‘n stadium was al die rekords van die aansoekvorms skoonveld.

“Na jare se gesukkel, en ansoekvorms wat vir die soveelste keer ingevul moes word, het ek ongeveer ses weke gelede die nuus ontvang dat van die huise tydens die besoek van die Gautengse Premier, David Makhura, aan die inwoners oorhandig sou word,” het Trudie gesê.

Die Premier het toe die titelaktes van 11 huise aan die gelukkige inwoners oorhandig.

“Ek is geweldig bly dat van die inwoners uiteindelik hul eiendomsbewyse gekry het,” het Trudie gesê. “Glo my, dit was omtrent ‘n gesukkel om dit afgehandel te kry.

Inwoners kon nie aansoek doen vir hulpbehoewendheidvoordele nie omdat hulle nie die eienaars van die huise was nie. Hierdie dokumente sal dinge vir die nuwe huiseienaars aansienlik makliker maak.”

Daar sal na verwagting in die volgende paar weke nog titelaktes oorhandig word en die proses behoort teen November voltooi te wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Bianca Pindral
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top