Monnas wen Virseker Beker

Die Wit Bulle is oorgehaal vir die wedstryd. Foto: Dawie Kruger.

Hoërskool Monument se eersterugbyspan, ook bekend as die Wit Bulle, het hulself weer eens bewys toe hulle op Saterdag, 26 Augustus met die Virseker Beker vir Makroskole weggestap het.

Monnas se uitmuntende oorwinning van 40–26 oor Hoërskool Nelspruit (Nellies) in die eindstryd van dié skolerugbyreeks (voorheen bekend as die Beeld-trofee) het hul wendroogte van sewe jaar uiteindelik gebreek.

Die Wit Bulle was in ‘n stryd met Nellies. Foto: Dawie Kruger.

Dit was vir Monnas steeds strawwe kompetisie aangesien Nellies daarvoor bekend is dat hulle nie op hul tuisveld verloor nie. Teen rustyd was al die Monnas-ondersteuners se senuwees gedaan toe die telling maar ‘n skrale 19–18 in Monnas se guns was.

Na dié senutergende eerste helfte was Monnas se aanval egter net te sterk vir Nellies en het hulle gereeld oor die voordeellyn gebeur.

Monnas se wendroogte van sewe jaar is uiteindelik verbreek. Foto ingestuur.

Die Wit Bulle se agsteman, PJ Jacobs het weereens sy plek in die span volgestaan deur twee van die ses drieë te druk. Dit was egter die flank, Larko Lindes wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is.

“Heel eerste gaan alle eer aan die Hemelse Vader, Hy het ons werklik geseën. Hierdie is ‘n ongelooflike groep seuns en ons as afrigtingspan het hard saam met hulle gewerk,” het Tjaart van der Walt, die afrigter van die Wit Bulle vertel.

Een van die Wit Bulle maak reg om pale toe te skop. Foto: Dawie Kruger.

“Dis ongelooflik om jou doelwitte wat jy aan die begin van die seisoen gestel het, te bereik en ‘n seisoen op so ‘n absolute hoogtepunt af te sluit.”

Monnas spog ook vanjaar met ‘n hokkiespan wat die Noordvaal-beker gewen het. Dit is die eerste keer sedert 1993 dat ‘n skool dit kon regkry om albei bekers te verower.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet.

Latest News

COMMENTS

Top