Man met gebrek motiveer Monnas

Hein Wagner saam met twee van die leerders. Foto ingestuur.

Hoërskool Monument (Monnas) het onlangs besoek ontvang van ‘n blinde man met uitsonderlike visie. Dit was niemand anders nie as die motiveringspreker, Hein Wagner.

Die oomblik toe Hein besluit het om sy blindheid vanuit ‘n ander perspektief te benader, het hy besef dat dit die beste geleentheid is waarvan hy ooit kon droom. Dit is die boodskap wat hy aan die leerders oorgedra het.

“Ek het net vier sintuie. Dink net wat jy kan bereik as jy vyf kan gebruik,” het hy vertel.

Hein het vroeg in sy lewe die keuse gemaak om sy gestremdheid te aanvaar en dit as ‘n unieke eienskap, eerder as ‘n struikelblok, te beskou. Hierdie keuse het sy lewe verander.

Hein Wagner saam met van die leerders. Foto ingestuur.

“Ek het altyd gewonder hoeveel kinders blind gebore word. Ek het toe gaan navors en ontdek dat slegs een uit elke 20 000 kinders blind gebore word,” het hy vertel.

“Ek het ‘n keuse gehad; ek kon dit beskou as die negatiefste ding wat ek nóg ontdek het, of ek kon dit met albei hande aangryp. Ek het besef dat dit my eintlik uniek maak. Dit was die moeilikste besluit wat ek tot dusver moes neem.”

Hein het Suid-Afrika in 1998 in die eerste Wêreldbeker-kriekettoernooi vir blindes in Indië verteenwoordig waartydens Suid-Afrika vir Pakistan in die eindstryd geklop het.

Hy het ook die rekordboeke gehaal toe hy in 2009 ‘n nuwe wêreldrekord in landspoed vir ‘n blinde bestuurder teen 322,50km/h behaal het.

Hein Wagner saam met twee van die onderwysers. Foto ingestuur.

Volgens hom is daar drie universele wette wat noodsaaklik is vir individuele en sakesukses – die wet van waardering, die wet van vertroue en respek, en ook die wet van gee.

“Dit is belangrik om leerders aan mense soos Hein bloot te stel. Hulle het nodig om te hoor dat hulle enigiets kan bereik as hulle hard genoeg daarvoor werk,” het Constance Strydom, bemarkingsbestuurder van Monnas vertel.

“Die matriekleerlinge is besig met voorbereiding vir die rekordeksamen, so motivering soos dié is van onskatbare waarde.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet.

Latest News

COMMENTS

Top