Ligte, kamera, aksie

Adriaan Havenga is trots op sy en sy medeleerders se prestasies. Foto: Alanicka Lotriet.

Die gordyne gaan oop en sleep oor die verhoog. Die gehoor sit in afwagting. Die hartroerende drama van ‘n getroude paartjie, Helena en Jattie Theron, asook Stella, Jattie se suster begin voor hulle ontvou.

Die stuk begin nadat Jattie en Stella se ouers tydens ‘n plaasaanval in die postapartheidera grusaam vermoor is. Dié moord bring mee dat Stella, wat stom is, by haar pasgetroude broer, Jattie en sy vrou moet intrek.

Een van 27 Maart 1985 se aktrises in karakter. Foto: Alanicka Lotriet.

Daarna word Jattie afgedank as gevolg van swart ekonomiese bemagtiging en sluit by ‘n ondergrondse organisasie aan. ‘n Verbitterde, ongelowige Jattie hoor toe dat sy vrou swanger is.

Hul geluk was egter van korte duur toe Jattie opdrag kry om ‘n bom te plant in die destydse Ellispark Stadion, terwyl sy suster daar is. By die stadion het hy vir Stella vertel dat hy vinnig ‘n draai moes ry omdat hy iets vergeet het, maar hy het in werklikheid die bom gaan plant.

Helena se sonarondersoek het intussen vinniger verloop as wat sy verwag het en sy besluit om vir Jattie en Stella by die stadion te ontmoet. Min het Helena geweet wat daar op haar wag.

Ruan Allen, een van die 27 Maart 1985 akteurs, in karakter. Foto: Alanicka Lotriet.

Hierdie uitmuntende toneelstuk van Hoërskool Monument, wat die eerste plek tydens die ATKV-Tienertoneel se Potchefstroom-streekfees behaal het, is boonop deur een van die Monnas-matrikulante, Adriaan Havenga, geskryf.

Die stuk staan bekend as my Suid-Afrika: ‘n openbaring en weerspieël, volgens Adriaan, hoe Suid-Afrikaners se gesindheid nié teenoor hul land moet wees nie.

“Ek wou ‘n stuk skryf waarmee Suid-Afrikaners hulle kan vereenselwig sodat mense kan besef dat ons nie kan verwag dat die land ‘n beter plek moet word nie tensy ons eers begin om dinge in ons eie huise reg te stel,” het hy vertel.

Dit is egter nie die enigste toneelstuk uit Adriaan se pen nie. Sy ander stuk, 27 Maart 1985, het ‘n algehele vierde plek in die Roodepoort-streekfinaal behaal. Dit handel oor die Westdenedam-busramp en is ‘n huldeblyk aan die 42 leerders wat daardie dag dood is.

Adriaan Havenga is trots op sy en sy medeleerders se prestasies. Foto: Alanicka Lotriet.

Adriaan en sy drama-onderwyseres, Yolandi Herbst het saam die regie van albei toneelstukke behartig. Hy het ook die rol van Jattie in my Suid-Afrika: ‘n openbaring vertolk, wat goud verower het.

Monnas hou saam met Adriaan en sy mede-akteurs duim vas aangesien hulle in September sal hoor of hul toneelstuk die top 15 in Suid-Afrika gehaal het, waarna hulle hopelik in Oktober aan die finale rondte sal deelneem.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet.

Latest News

COMMENTS

Top