Bekende akteur besoek Nories

Arno Greeff deel Vaselinetjie-pamflette vir Nories se junior leerders uit. Foto: Alanicka Lotriet.

Afrikaanse films het die afgelope paar dekades hoër hoogtes as ooit tevore bereik, maar skrywers het egter eers relatief onlangs in die donker, soms verlate hoeke van die bedryf begin delf. Dis juis hoe die nuwe rolprent, Vaselinetjie, wat gebaseer is op die boek deur Anoeschka von Meck, geskiet is – in die donker.

Die bekende akteur, Arno Greeff – oftewel Texan, die koshuisseun waarop die hoofkarakter Vaselinetjie verlief raak – toer tans in verskeie dele van die land om dié rolprent aan hoërskole bekend te stel, veral aangesien dit oor ‘n kind handel.

Arno Greeff in sy karakter van ‘Texan’. Foto: Alanicka Lotriet.

Dinsdag, 8 Augustus was Hoërskool Noordheuwel se beurt toe dié Getroud met Rugby-akteur hulle meer vertel het van die rolprent wat op 22 September vanjaar landswyd in teaters vrygestel sal word.

Dié hartroerende post-apartheiddrama vertel die verhaal van Helena Vaselinetjie Bosman, ‘n wit dogtertjie, wat deur haar liefdevolle bruin grootouers op ‘n klein dorpie grootgemaak is. Wanneer die ‘welsyn’ egter uitvind dat Vaselinetjie nie die egpaar se biologiese kleinkind is nie, gryp hulle in en besluit om haar na ‘n staatsweeshuis in ‘n stad ver daarvandaan te stuur. Daarna word sy gedwing om die werklikheid van haar ingewikkelde verlede te konfronteer.

Volgens Arno is dit ongelooflik wat die Suid-Afrikaanse filmbedryf met ‘n klein begroting kan doen, aangesien die film binne ‘n maand geskiet is. Hy het vertel dat die verfilming verlede jaar in Julie in Johannesburg, Durban en Springbok gedoen is, en dat dit vreeslik pret was om saam met sulke ongelooflike en rou akteurs te werk.

“Dit was werklik amazing en vir my ‘n stap in die regte rigting. Dit gaan ‘n baie diep fliek wees wat ek hoop mense werklik sal raak,” het hy vertel.

In die Wes-Kaap, waar die boek vir skole voorgeskryf word, het Arno meer as 160 skole besoek. Tydens sy besoeke vertoon hy die lokprente van Vaselinetjie en Vuil Wasgoed.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Alanicka Lotriet
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top