VF Plus vasberade om dodelike kruising te beveilig

Amanda de Lange, VF Plus-raadslid in Mogale City.

VF Plus het die Gauteng Departement van Openbare Vervoer, Paaie en Werke en Mogale City Plaaslike Munisipaliteit genader om dringend ‘n stopteken by die N14/ R563-aansluiting in Hekpoort aan te bring.

“Volgens inligting was daar sedert die begin van die jaar drie noodlottige motorfietsongelukke. Dirk van der Nest, wat op 9 Julie gesterf het, was die jongste slagoffer van dié omstrede kruising,” het Amanda de Lange, VF Plus-raadslid in Mogale City gesê.

Sy het voorts gesê sy het reeds met die owerhede gepraat en volgens Gautrans moet daar verkieslik ‘n verkeerslig by die kruising opgerig word, maar Mogale City kan nie die nodige elektrisiteit verskaf nie.

Volgens haar is die naasbeste opsie ‘n drierigting-stop met spoedwalle.

“Ek glo dit gaan baie mense frustreer, maar dit gaan hier oor menselewens. Albei paaie is hoofroetes vanaf Botswana en die Noordwes-provinsie. Ons moet aksie neem. Motorfietsryers het geen verweer as ‘n voertuig of trok voor hulle inry nie.”

De Lange, wat self gereeld op haar ysterperd gesien word, het vertel dat hulle kort na Van der Nest se ongeluk op die toneel aangekom het. “Dit breek jou hart om te sien hoe mense op ons paaie sterf.

“Ek sal nie ophou alvorens die owerhede die nodige padtekens aangebring het nie,” het sy gesê.

Die VF Plus ag die veiligheid van padgebruikers hoog en die nodige voorsorg moet getref word om veral swaar voertuie behoorlik by besige kruisings te beheer.

Sy het bygevoeg dat die oorbrug by die Pinehaven-kruising ‘n absolute prioriteit is, en dat daar nou op nasionale vlak oor dié lank uitstaande kwessie onderhandel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Janine Viljoen
Editor

Latest News

COMMENTS

Top