Dis nie wat diereliefhebbers doen nie!

Hier in Noordheuwel is daar mense wat die pragtigste hond (dit lyk soos ‘n boerboel) elke dag aan ‘n ketting hou.

Volgens die DBV is dit nie verkeerd om ‘n hond aan ‘n ketting te hou nie mits daar skuiling, kos en water is.

So ek neem aan die “slim” mense wat tot hierdie gevolgtrekking gekom het, het nie die arme dier se stresvlakke in ag geneem nie, ook nie wat die gevolge kan wees as daar skielik ‘n brand op daardie eiendom moet ontstaan nie.

Hoe moet daardie arme hond voel as hy sien hoe sy maatjie, wat nie vasgemaak is nie, vrylik kan rondbeweeg maar hy kan nie? Ook aan die eienaar wil ek vra, gaan jy tevrede wees om heeldag vasgeketting te wees, met net die klein stukkie waarin jy kan rondbeweeg?

Ek weet nie wat jou redes is hoekom jy so ‘n pragtige hond aan ‘n ketting hou nie maar ek gee ook nie om nie, want niks kan dit regverdig nie.

As jy bang is die hond dolwe jou tuin om, skort hom af. As jy bang is hy val dalk julle bediende aan, skort hom af. As jy bang is hy kom uitgehardloop as julle wil ry, skort hom af – anders moet jy glad nie ‘n hond aanhou nie!

As mense hulleself diereliefhebbers noem, gaan hulle doen wat goed is vir daardie dier en nie selfsugtig optree nie.

Ek haal die volgende aan wat Mahatma Gandhi gesê het, “The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated”.

Waar laat dit ons, Suid-Afrika?

  AUTHOR
Janine Viljoen
Editor

Latest News

COMMENTS

Top