Onthou jy nog … die dorp se inligtingsdiens?

Pamflette van toeristetrekpleisters is volop in die gebou.

Om terug te dink aan die verlede kan verskeie emosies ontlok. Sommige emosies kan onaangenaam wees en ander kan ‘n glimlag bring.

Die News het besluit om met ‘n nuwe reeks af te skop deur ‘n terugblik op die verlede te gee. Die Onthou jy nog … reeks sal in die News se gedrukte asook digitale media verskyn. Dié week se Onthou jy nog … is prettig, maar tog insiggewend vir oud en jonk.

Dis die jaar 1983:

In Januarie publiseer die Krugersdorp Nuus ‘n artikel oor die Stadsraad se inligtingsdiens. Die inligtingskantoor is op die been gebring nadat die Stadsraad besluit het om die jaarlikse subsidie van die Publisiteitsvereniging te verminder en die inligtingsaspek oor te neem.

Die destydse skakelbeampte, Johann Breed, het groot planne gehad om ‘n volwaardige inligtingsdiens tot die beskikking van inwoners en besoekers te stel. Die sentrum het begin deur inligting oor onder andere die dorp se besighede, restourante en vermaak te stoor.

Daar is ook begin om feite en foto’s te versamel oor die geskiedenis van die dorp, en dit het leerders weer gehelp met skooltake. Die inligtingsdiens het in dieselfde jaar ‘n nuwe reeks poskaarte van die dorp bekendgestel. Die diens het later begin met ‘n register van aktiwiteite in die dorp. Johann het beplan om in dieselfde jaar ‘n jeugkoor op die been te bring.

Die koerantuitknipsel van 1983 waarin vertel word van die stadsraad se nuwe inligtingsdiens.

Dis die jaar 2017:

News-joernalis Nadine Maré besoek 34 jaar later dieselfde gebou waar die inligtingsdiens geleë is om vas te stel hoeveel vordering daarmee gemaak is. Die inligtingsdiens se naam het egter verander na die Wes-Randse Sakekamer, oftewel die West Rand Chamber of Business and Tourism (WRCBT). Die diens is steeds in dieselfde gebou en die inhoud lyk nog dieselfde. Die sentrum lewer steeds dieselfde dienste, alhoewel tegnologie groot veranderinge in die bedryf moontlik gemaak het. Die sentrumpersoneel gebruik steeds lêers om inligting te stoor en besighede adverteer steeds hulle dienste deur middel van pamflette. In die advertensiekamer is amper elke besigheid in Krugersdorp en omliggende areas se inligting beskikbaar – van troulokale en restourante tot vermaakplekke.

Die WRCBT se visie is om die groter Wes-Rand teen die jaar 2020 te transformeer tot ‘n vooruitstrewende besigheidsentrum. Hul missie sluit in om die stem vir besighede te wees en ‘n leiersrol in dienslewering aan die gemeenskap te speel. Die sentrum streef daarna om deur inisiatiewe, entrepreneurskap en aktiwiteite by te dra tot die ekonomie binne die gemeenskap.

Toeriste-aantreklikhede word vandag nog op die bord uitgestal.

Die sentrum het steeds historiese inligting wat volgens Dehlia van Staden, direkteur van die Sakekamer, deur leerders gebruik word. Hulle hou ook een maal per maand die bekende Rondomtalie Toer waartydens daar elke maand ‘n ander omgewing besoek word. Hulle hou elke Saterdag die bekende straatmark in Presidentstraat, wat ‘n reuse sukses is.

Die sentrumbestuur beplan om hulle nie deur die vordering – en bedreiging – wat tegnologie meebring, te laat afskrik nie en hulle steeds te laat lei deur die leuse ‘Omdat ek weet toerisme is elke persoon se besigheid, sal ek my deel doen’.

Lees meer oor die WRCBT:

WRCBT Awards – The glitz and glamour

The top achievers in this year’s Business Achievers Awards

Recognition given to top businesses

[PHOTOS] Awarded for growing the West Rand economy

  AUTHOR
Nadine Maré
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top