Pensioenaris wreed vermoor by sy agterdeur

Emosie het hulle oorweldig toe bure, familie en vriende die vermoorde Giel Louwrens (80) 'n laaste keer op die toneel groet.

Lewisham-inwoner Giel Lourens (80) is net voor 8uur vanoggend, 19 Maart op die trap by sy agterdeur deur inbrekers oorval en drie keer met ‘n mes gesteek – die derde keer in sy keel en hy is kort daarna oorlede.

Volgens ‘n kleindogter van Lourens, Yolandi Grenfell is dit die derde inbraak die afgelope jaar by die huis waar haar oupa en ouma, Siena Lourens (73), al vir 50 jaar woon.

“Gereedskap is onlangs uit hul motorhuis gesteel en daar was nog ‘n geval waartydens meubels uit die huis gesteel is terwyl my oupa en ouma met vakansie was,” sê sy.

Sy vertel dat familie die aand voor die aanval nog in die sitkamer gesit het en aan die pensioenarispaar voorgestel het dat hulle trek omdat misdaad onlangs erg begin toeneem het in die woonbuurt.

DA Raadslid van die area, Hetta Kruger het die toename in misdaad in ‘n onderhoud met die NUUS bevestig deur twee ander voorvalle uit te lig, naamlik een waartydens ’n familie in hul huis aangehou is en ‘n ander waartydens ‘n man in Desember 2013 in dieselfde straat in sy oprit doodgeskiet is.

Lourens, of oom Giel soos die mense in straat hom ken, se dood was die derde misdaadvoorval sedert Desember wat by die polisie gerapporteer is en die gemeenskap word verlam deur vrees.

“Ons weet nie wie se beurt dit volgende gaan wees nie; ons slaap nie en ons is bang om ons huise te verlaat,” het ‘n groep inwoners in die straat vir die NUUS vertel.

Volgens bure was Lourens is saggeaarde man wat niemand sou leed aandoen nie. Wat familie en kennisse die diepste getref het, was Lourens se weerloosheid tydens die aanval.

“Hy is oud en magteloos. Die diewe kon vat wat hulle wou hê en loop – dis siek om te dink hulle was daar met ‘n missie; om ‘n ou man te vermoor,” sê Grenfell.

Terwyl sy in die eetkamer langs die kombuis sit wat ure tevore ‘n moordtoneel was, het Grenfell die besonderhede van die aanval wat tot haar oupa se dood gelei het, met die NUUS gedeel.

“Hy was op pad om die asblik te gaan leegmaak en toe hy die agterdeur oopsluit, is hy deur die inbreker oorval wat hom moontlik ingewag het.”

“Die inbreker het hom drie keer gesteek en tussendeur het my oupa om hulp geroep,” vertel sy.

Die moordtoneel waar Lourens se horlosie op die asblik lê.

Die moordtoneel waar Lourens se horlosie op die asblik lê.

Siena wat besig was om haar hare te was, het haar man hoor skree en na hom toe gehardloop.

Etlike tree voor die kombuis kon sy hoor hoe Lourens roggel en die volgende oomblik het sy ‘n figuur bo-oor haar man sien staan.

Sy het na die voordeur gehardloop en om hulp geroep.

“Vyf mense wat in daardie stadium in die straat was, het ingekom om te help, maar hulle het my oupa in die kombuis, reeds dood, aangetref,” vertel Grenfell.

Die verdagte wat volgens polisie deel was van ‘n groter groep, het te voet gevlug.

Volgens Krugersdorp SAPD-woordvoerder Tshepiso Mashale is een verdagte intussen in verband met die moord gearresteer, maar sy kon nie bevestig of dit die aanvaller self was nie.

  AUTHOR
Amoryn Golden

Latest News

Top